

Algemene Inligting
Ons Passie
Ons passie is kinders! Kinders leer deur te speel in 'n ontspanne, liefdevolle omgewing. Ons bied deur 'n verskeidenheid kreatiewe idees elke dag verskillende speel-geleenthede wat die kinders die geleentheid gee om op elke vlak te ontwikkel. Die belangrikste doel van ons program is om kwaliteit voorskoolse onderrig en ontwikkeling te verskaf aan elke peuter en kleuter. Ons poog om gelukkige, selfversekerde en skoolgereed kleuters Laerskool toe te stuur.
Ons Waardes
-
Respek vir individualiteit: Alle kinders het die reg om as individue gerespekteer, gewaardeer en in 'n veilige omgewing gestimuleer te word.
-
Luister: Ons respekteer en luister na ons personeel en waardeer elk as 'n individu met 'n unieke vermoëns. Ons streef ook na die ontwikkeling van elke personeellid.
-
Belegging: Ons belê in geskikte, goed onderhoude geboue en voorsien kwaliteit opvoedkundige toerusting wat in ons leer omgewing gebruik word.
-
Integriteit: Ons bevorder eerlikheid, regverdigheid en etiese gedrag in ons interaksie met die gemeenskap en gesinne by ons skool.
Ons opvoedingsfilosofie
-
Die eerste ses jaar is die belangrikste tyd in 'n kind se lewe en vorm die basis van alle leer.
-
Emosionele geborgenheid dien as basis vir leerervaring op skool.
-
Kleuters ontwikkel progressief van een fase van ontwikkeling na 'n ander.
-
Kleuters moet geleenthede gegun word wat as uitdaging dien vir ontwikkeling tot 'n hoër fase.
-
Die uniekheid van die kleuter ontwikkelingsvlak word erken.
-
Die uniekheid van alle kleuters ten opsigte van persoonlikheid samestellings, leerstyl voorkeure, omgewingsvoorkeure, leermodaliteitsvoorkeure, breinvoorkeure en veelvuldige intelligensie word erken.
-
Die kind word in sy totaliteit by die leerproses betrek.
-
Leerders van hierdie ouderdom leer deur ervaring met die lyfie en die sintuie.
-
Kleuters is stimulus gebonde – voortdurende stimulasie is nodig vir optimale leer.
-
Elke kleuter ontwikkel volgens sy EIE pas.
Ons ideaal is dus om 'n jaarprogram vol aktiwiteite, uitstappies en verrassings te skep – enige kleuter se droom!
Die onderwyseres se rol
Die personeellid vir u kleuter se betrokke groep sal die voortou neem in die skolastiese komponent van onderrig. Sy skep 'n stimulerende, veilige atmosfeer in die klaskamer waar die kleuter kan leer, gelukkig wees en met selfvertroue kan optree. Sy sal deurlopend in kontak bly met die ouers en hulle in kennis stel van die kleuter se sterkpunte en, waar nodig, voorstelle maak om ook die swak punte te verbeter.
Aktiwiteite word deeglik beplan om voorsiening te maak vir die individuele vermoëns en belangstellings van die kleuters. Logiese denke word ten alle tye aangemoedig sowel as redeneringsvaardighede en kreatiwiteit. Sy sal ook op hoogte bly van alle vernuwing ten opsigte van kleuteronderwys.
Taal van onderrig
Onderrig geskied in Afrikaans en Engels en kleuters sal aangespreek word in hul moedertaal waar moontlik.
Sekuriteit
Ons ag die sekuriteit van u kind baie belangrik. Ons maak gebruik van 'n hek met toegangsbeheer. Slegs ouers sal voorsien word van 'n kode vir die hek. Die kode word gereeld verander vir veiligheid. Maak asseblief seker dat die hek stewig agter u toemaak. Elke kind word in die oggend ingeteken en wanneer hulle gehaal word, uitgeteken.
Vorms wat vereis word by toelating
Maak asseblief seker dat u die volgende vorms inhandig by die kantoor wanneer u, u peuter / kleuter inskryf:
-
Inskrywingsvorm;
-
Geboortesertifikaat;
-
Immuniseringsertifikaat;
-
Afskrif van beide ouers se identiteitsdokument.