top of page

Skooltye en Dagprogram

Skooltye

Ons het 2 opsies waarvan u gebruik kan maak:

  1. Halfdag:   6:30 tot 13:30 (Maandag tot Vrydag)

  2. Voldag:    6:30 tot 17:15 (Maandag tot Vrydag)

     

Algemene Dagprogram

06:30 - 07:30              Aankoms

07:00 - 08:00             Ontbyt

08:00 - 12:00              Dagprogram (speeltyd ingesluit)

12:00 - 12:30               Middag ete

12:30 - 13:40               Rustyd

13:40 - 14:00               Toilet

14:00 - 17:15                Nasorg (speel, toilet roetine, versnaperings)

 

Skoolvakansies:

Klein Kabouters is oop elke vakansie behalwe Desember. Indien u van ons dienste gebruik maak sal daar 'n oop program vir die kleuters wees. Dit beteken dat die program wat gevolg word meestal vrye keuse is en nie beplan word volgens 'n spesifieke tema nie.

 

Dagprogram

Ons dagprogram maak genoeg voorsiening vir goeie afwisseling tussen rus, roetine, kringtyd en verskillende hand-aktiwiteite tydens vryspel.

 

Ons personeel poog om altyd die dagprogram stimulerend en uitdagend te hou. Uitnemende onderrig en die ontwikkeling van elke kleuter is ons prioriteit. Die eindresultaat is 'n liggaamlik- en geestelik-ontwikkelde kind, wat baie beter toegerus is vir die eise van formele onderrig. Die dagprogram is dus ontwerp om aan die kognitiewe, geestelike, fisiese en emosionele behoeftes van die jong kind te voldoen.

Ontbyt word van ongeveer 07:15 tot 08:00 bedien. Indien u kleuter later as 08:00 by die skool aankom, maak asseblief seker dat u kleuter reeds geëet het.

 

In somertye begin ons met oefeninge en buitespeel wat verskillende groot motoriese spiere en koördinasie-oefeninge insluit. Dit is lekker koel in die oggende en die kinders se energievlakke is hoog. Ons kweek dan sommer van kleins af 'n liefde vir sport en oefening. Daarna is dit oggendkring (Bybel / musiek) gevolg deur 'n snoephappie en buitespel. Tema besprekings word dan gedoen (alles word in boekies geskryf) gevolg deur 'n speletjie wat fyn motories, skeppend of een of ander perseptuele vaardigheid oefen.

 

'n Groot deel van die dag bestaan uit buitespeel waar kinders nodige sosiale vaardighede aanleer, fantasiespel kan uitoefen en net vry kan leer en speel. Ons beweeg heeltyd tussen die kinders deur.

Elke klassie word op verskillende tye toegelaat om buite te speel. Die klassies kom 2 keer deur die loop van die oggend uit. Handjies word gewas voor ete en om 11:30 word middagete voorsien.

 

Die oggend word afgesluit met storietyd.

 

Ouers word gevra om tuis oor die temas te gesels. Kinders kan ook items van die huis af bring wat verband hou met die tema.

 

Middag rustyd

Tydens die oggendprogram word baie energie verbrand. Na middagete het hulle tyd nodig om te rus. Kleuters wat nie kan/wil slaap nie, sal NIE gedwing word om te slaap nie, maar hulle moet tog lê en storie luister en kan later buite gaan speel as die ander maatjies slaap.

 

Huis-toe-gaan-tyd

Laat asseblief u peuter / kleuter se onderwyseres of die kantoor weet wie u kind gewoonlik kom haal. Indien enigiemand anders u kleuter kom haal, moet u asseblief 'n afskrif van hierdie persoon se identiteitsdokument stuur of telefonies met die skool reël en 'n beskrywing van die persoon gee, asook hul kar se registrasienommer verskaf. Die veiligheid van u kinders is ons prioriteit.

 

Die middagpersoneel werk tot 17:15. Dit is baie belangrik dat u op tyd sal wees sodat ons personeel nie oortyd hoef te werk nie. 'n Boete van R50.00 vir elke 10 minute sal gehef word vir ouers wat hul kleuters na 17:15 kom haal. Hierdie geld is onmiddellik betaalbaar.

 

Uitstappies

Ons probeer om 4-5 keer per jaar op uitstappies te gaan. Ouers word goed ingelig voor uitstappies en 'n vrywaringsbrief moet elke keer geteken word.

 

Verversings

Ons voorsien ontbyt, 'n gekookte middagete en 3 snoep happies deur die dag. U is welkom om water / sap skool toe te stuur (ons voorsien water / tee / sap deur die dag).

 

Stuur asseblief melk skool toe vir babas / kinders wat melk drink.

bottom of page